Drie uitdagings vir eerste RNE-begroting

Martin van Staden / Midjourney
Martin van Staden / Midjourney

This article was first published by Maroela Media on 29 October 2024

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, lewer eersdaags sy vierde mediumtermyn begrotingsrede sedert hy in Augustus 2021 as minister van dié portefeulje aangestel is. Wanneer die minister egter aan die einde van Oktober 2024 weer sy plek op die podium inneem sal hy uitkyk op ’n drasties veranderde politieke omgewing binne Suid-Afrika.

Tog, vir gewone Suid-Afrikaners, sal die fokus nie soseer op die politieke veranderinge wees nie maar eerder op die impak wat sodanige veranderinge op hul alledaagse lewe sal hê. Die groot toets vir hierdie jaar se “mini-begroting” is dus om te sien of die omwenteling in die samestelling van die kabinet ook sal lei tot hervorming van die beleid wat dié kabinet gaan uitoefen.

Daar is drie kritiese uitkomste vanuit laasjaar se begrotingsrede wat Suid-Afrikaners moet dophou wanneer die minister hierdie jaar die regering se planne vir ons swaarverdiende belastinggeld bespreek.

1. Skuldvlakke

Die idee van ’n sogenaamde “verlore dekade” onder die bewind van voormalige President Jacob Zuma is deesdae bykans alomteenwoordig en word ook algemeen aanvaar as ’n geldige en akkurate beeld van die periode wat rofweg tussen 2009 en 2019 plaasgevind het. Daar is beslis verskeie empiriese gegewens wat só ’n ontleding ondersteun. Een van die mees prominente ekonomiese verskynsels in daardie periode is die geweldige toename in staatskuld wat sedert 2008 aangegaan is.

Staatskuld word gewoonlik uitgedruk met verwysing na die verhouding tussen die totale skuld wat ’n land opgehoop het teenoor die grootte van sy ekonomie, kortliks uitgedruk as die skuld-tot-BBP verhouding. Wat Suid-Afrika betref, het hierdie verhouding op sowat 32% in 2008 gestaan maar het intussen dramaties gestyg tot op ’n verhouding van bykans 80% in die jongste begroting.

Hierdie oorbesteding deur die staat het egter nié saam die termyn van President Zuma geëindig nie. Trouens, die Suid-Afrikaanse regering spandeer sedert 2019 rondom 5% meer as wat hy in belasting invorder.

Die uitkoms hiervan is dat sowat 20% van ons begroting op hierdie stadium aan die rente op ons staatskuld spandeer word. Dit wil sê nagenoeg 1 uit elke 5 rande wat die regering tans bestee word gebruik net om ons bestaande skuld te diens – wat uitwerk na meer as R1 miljard per dag.

Vergelyk bloot hierdie syfers met die gemiddeld vir ons eweknieë in ontluikende markte regoor die wêreld, waar hul sowat 8% van hul begrotings aan skuld spandeer dan word die erns van dié kwessie selfs nog meer duidelik.

Die bekamping van staatskuld behoort die grootste prioriteit vir Minister Godongwana te wees. Die Suid-Afrikaanse regering leef al vir ’n geruime tyd ver bo sy vermoë en die argument vir ernstige besuiniging van staatsbesteding word al hoe sterker hoe meer mens begin kyk na dit waarop die staat ons geld bestee.

2. Die staatsdiens-salarisrekening

Selfs nog meer skokkend as die syfers met betrekking tot skuld, is die enorme staatsdiens-salarisrekening relatief tot die grootte van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Trouens, ons salarisrekening in die staat is selfs enorm relatief tot die grootte van ons staatsdiens.

Volgens die jongste beskikbare indiensname syfers werk ongeveer 18.6% van werkende Suid-Afrikaners vir die regering. Dit is nie te ver verwyder van die gemiddeld van 17.9% vir die (relatief ryk) lande binne die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) nie. Tog, indien die hoeveelheid werkers in ons staatsdiens nie reeds die oë laat rek nie, dan behoort die koste van ons staatsdiens beslis jou te laat skrik.

Kom ons begin met die ekstreme geval.

In Noorweë, waar die bogenoemde syfer op rofweg 30% staan, het hulle een van indien nie die grootste proporsionele staatsdiens ter wêreld. Dit wil sê, bykans ’n derde van die werkers in Noorweë word as deel van die staatsdiens op ’n manier getel. Tog, spandeer hulle slegs sowat 11% van BBP aan salarisse vir die staatsdiens. In Suid-Afrika staan die salarisrekening op sowat 13.6% van BBP. Dit wil sê, ons betaal omtrent ’n kwart meer as Noorweë in terme van BBP vir ’n staatsdiens wat 40% kleiner is – en ek dink nie enigiemand gaan argumenteer dat ons staatsdiens maar net soveel meer doeltreffend en kundig is as die res van die wêreld nie (uitgesluit, natuurlik, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens wat baie doeltreffend belasting invorder).

Wat die begroting betref, neem die staatsdiens-salarisrekening nagenoeg ’n derde van besteding deur die staat elke jaar op. Met ander woorde, tussen salarisse en die rente op skuld is meer as helfte van die begroting reeds weg. Tot dusver het ons egter gefokus op die spandeer kant van die begroting, ons laaste punt gaan kyk na die opbrengste van die staat.

3. Belasting

Daar word gereeld gepraat van Suid-Afrikaners wat oorbelas word en gegewe die dienste wat ons vir ons belastinggeld ontvang is daar beslis baie om só ’n stelling te regverdig. Dit is egter ook waar wanneer ons bloot na belastingsyfers sigself kyk.

Ongelukkig, soos met die koste en grootte van ons staatsdiens, ding Suid-Afrika ook met van die belasting swaargewigte in die wêreld mee. Wat belasting as ’n persentasie van ekonomiese aktiwiteit betref, kortliks bekend as die belasting-tot-BBP verhouding, staan Suid-Afrika op rondom 26%. Weereens breedweg in lyn met lande soos Oostenryk, Noorweë, en Swede as een van die hoogstes ter wêreld.

Vergelyk hierdie syfer met die gemiddeld vir die wêreld as ’n geheel wat op baie nader aan sowat 15% van BBP staan. Ook hier sal ek nie noukeurige en doeltreffende aanwending van belastinggelde die skuld gee vir ons besondere hoë syfer nie.

Ekonomies gesproke, moet mens ook na die effek wat belasting op ekonomiese aktiwiteit uitoefen kyk. Dit is hier waar sommige kenmerke van ons belastingstelsel hoegenaamd nie regverdig kan word nie.

Een voorbeeld is maatskappyebelasting wat tans op sowat 27% staan (hier “klop” ons vir Noorweë behoorlik wat op ’n skamele 22% staan) en tog betaal dit vir slegs ongeveer 6% van besteding. Gegewe hoe ontwrigtend hierdie belasting vir ekonomiese aktiwiteit is, is só ’n hoë koers waansinnig. Gaan kyk maar net na Ierland se ekonomiese groei na hulle so klompie jaar terug dié belastingkoers drasties verlaag het om te sien hoe groot impak dit kan hê.

Slot

Ten einde suksesvol te wees, sal die nuwe kabinet moet hervorm. Die 100-dae wittebrood periode vir die RNE is verby. Mens sal nou regtig ’n idee begin kry van hoe die toekoms gaan lyk en die eerste groot aanwyser vir ekonomiese beleid sal die begroting aan die einde van Oktober wees. Kom ons hoop dat Minister Godongwana by hierdie jaar se mini-begroting nie bloot net ’n kabinet met ’n nuwe persoonlikheid sal sien nie maar ook een met nuwe beleid.

Share

Fund the FMF

Help the FMF to promote the rule of law, personal liberty, and economic freedom.

For more content like this, Subscribe to the FMF

The views expressed in the article are the author’s and are not necessarily shared by the members of the Foundation. This article may be republished without prior consent but with acknowledgement to the author.

RELATED ARTICLES

WATCH OUR LATEST VIDEO

FUND THE FMF

Help the FMF to promote the rule of law, personal liberty, and economic freedom.