This article was first published by Maroela Media on 27 August 2025
Suid-Afrika wankel op die rand van ekonomiese ineenstorting, verwurg deur binnelandse proteksionisme en eskalerende buitelandse tariewe. Sedert die 2000’s het BBP per kapita-groei gestagneer, jeugwerkloosheid het 46% in 2025 oorskry, en investering het gekelder. Die Verenigde State se onlangse 30%-tarief op Suid-Afrikaanse uitvoere, wat deur president Donald Trump ingestel is om beweerde handelswanbalanse aan te spreek, vererger hierdie krisis.
Suid-Afrika se eie tariewe, wat gemiddeld 7,7% op invoere beloop, blaas pryse op, onderdruk innovasie en belas die 55% van die bevolking wat in armoede leef. Die Vryemarkstigting voer in hul jongste verslag aan dat die aftakeling van tariewe – beide binnelands en in reaksie op buitelandse tariewe – deur eensydige liberalisering noodsaaklik is om die voordele van vryhandel te benut en ekonomiese vooruitgang te laat herleef.
Die argument teen proteksionisme is gewortel in eeue van ekonomiese denke. Adam Smith het in The Wealth of Nations (1776) merkantilisme gekritiseer omdat dit produsente bo verbruikers bevoordeel het, en handel as ‘n wedersyds verrykende ruil eerder as ‘n nulsomspel beskou het. David Ricardo se teorie van vergelykende voordeel (1817) het gedemonstreer dat spesialisasie selfs minder doeltreffende nasies bevoordeel. Frédéric Bastiat het proteksionisme se verborge koste – die ongerealiseerde werksgeleenthede, beleggings en welvaart – uitgelig deur sy satiriese kritiek op huursoekery. In die 20ste eeu het Friedrich Hayek die foute van sentrale beplanning in sy The Use of Knowledge in Society (1945) uitgelig deur aan te voer dat pryse, nie burokrate nie, hulpbronne die beste toewys, en tariewe verdraai juis hierdie markseine, wat lei tot wanallokasie.
Tariewe funksioneer in effek as ‘n regressiewe belasting op verbruik, wat die armes disproporsioneel benadeel en monopoliste verryk. Suid-Afrika se tariefstelsel is ‘n voorbeeld hiervan, deur ondoeltreffende firmas te ondersteun, insetkoste vir uitvoerders te verhoog en lobbywerk oor innovasie te beloon.
Die koste van tariewe in Suid-Afrika is diepgaande en veelsydig. Na 2008 het die land se handelsvryheidstelling gedaal van 7.57 in 2002 tot 6.96 in 2022, wat gekorreleer het met stygende jeugwerkloosheid, stagnante kapitaalvorming en minder as 1% jaarlikse BBP-groei. Binnelandse tariewe oorskry dié van eweknieë soos Mauritius (1.2%) en Roemenië (5.1%), wat lewenskoste opblaas en produktiwiteit erodeer.
Verder, is die logika wat tariewe motiveer opsigself selfvernietigend, aangesien hulle nie gelyktydig hul beweerde doelwitte kan bereik nie: inkomste genereer, plaaslike nywerhede beskerm, of geopolitieke strategieë bevorder. Hierdie doelwitte vorm ‘n trilemma, waar die nastrewing van een die ander ondermyn.
Vir inkomste moet tariewe laag, stabiel en minimaal ontwrigtend wees vir invoere ten einde handelsvolume aan te moedig. Proteksionisme vereis hoë, stabiele tariewe om ontwikkelende nywerhede te beskerm en invoere te verminder, wat plaaslike produsente tyd gee om te skaal. Geopolitieke doelwitte vereis buigsame, streng tariewe om invoere drasties te beïnvloed, ontkoppel van verdere ekonomiese oorwegings.
Gevolglik, bots inkomstegenerering met beskerming deur afhanklik te wees van voortgesette invoere, terwyl geopolitiek met beide bots deur buigsaamheid bo stabiliteit of handelskontinuïteit te prioritiseer. Tog, selfs in isolasie is tariewe ondoeltreffend: hulle verwring verbruik, belas produktiewe insette, verdraai prysseine en lei hulpbronne na onproduktiewe aktiwiteite. Suid-Afrika se ervaring beklemtoon dit, waar proteksionistiese beleide ondoeltreffendheid eerder verskans het as om groei te bevorder.
In teenstelling hiermee, bemagtig vryehandel verbruikers deur pryse te verlaag en keuses uit te brei, verbeter produktiwiteit deur globale insette, verhoog beleggings en skep werksgeleenthede in mededingende sektore. Mauritius se lae-tariefbenadering het die BBP per capita van US$4 000 in 1995 tot $10 000 in 2022 verhoog, terwyl Roemenië se liberalisering na die 1990’s die direkte buitelandse beleggings (FDI) vervyfvoudig het. Uitvoergerigte ekonomieë oortref doodgewoon proteksionistiese ekonomieë.
Eensydige liberalisering – ‘n “handels-nie-beleid” – verlaag die impak van Amerikaanse tariewe deur mededingendheid te verhoog sonder om burgers te belas.
Om dit te bereik, moet Suid-Afrika gewaagde hervormings aanneem:
- Herroep alle tariewe wat sedert 2019 ingestel is, behalwe dié wat verband hou met wettige staatsveiligheid-kwessies.
- Stel ʼn vyfjaar-sonsondergangklousule op bestaande tariewe in, wat parlementêre goedkeuring vir hernuwing vereis.
- Skaf die Internasionale Handelsadministrasiekommissie (ITAC) af en vervang dit met ʼn liggaam wat met die verlaging van handelsbelemmerings getaak is.
- Promulgeer ʼn wettige aanname ten gunste van vrye handel, wat diskriminerende handelsbeleide sonder parlementêre goedkeuring verbied.
- Vaartbelyn die doeane met digitale stelsels, soos gesien in Singapoer, om nakomingskostes te verminder.
- Elimineer diskriminerende lisensiëring en kwotas vir invoere en uitvoere.
- Liberaliseer kapitaalbeheer om direkte buitelandse beleggings te lok.
- Verskans handelsopenheid as ʼn grondwetlike beginsel, en erken vryheid van ruilhandel as ʼn fundamentele reg.
Proteksionisme bevorder ekonomiese nasionalisme, hanteer buitelanders as bedreigings en handelsoorskotte as oorwinnings, terwyl handel eintlik samewerking en gedeelde voorspoed bevorder.
Suid-Afrika moet die dwaasheid van proteksionisme verwerp – binnelandse tariewe en die Amerikaanse 30%-heffing loop die risiko om stagnasie, werkverliese en armoede te verdiep. Maar deur hindernisse af te skaf en wêreldhandel te omarm, kan Suid-Afrika voorspoed terugkry en weer Afrika se baken word.





