This article was first published by Maroela Media on 22 May 2025
Gewoonlik wanneer daar oor inflasie in begrotings gepraat word dan verwys dit na die effek van stygings in algemene prysvlakke op begrotingssyfers, maar wat die 2025 Nasionale Begroting uniek maak is dat daar ook ’n ongekende toename in begrotings opsigself was. Aangesien die derde poging (genadiglik) blyk die laaste een te wees, kan ons nou behoorlik kyk of die styging in begrotings en veral in politieke partye wat hulle opstel moontlik met ’n afname in frustrasies vir die belastingbetaler gepaardgaan.
Maar eers net so paar inleidende opmerkings voordat ons dieper delf.
Telkens wanneer ek iets oor die nasionale begroting vir Suid-Afrika moet skryf (wat, soos vroeër genoem, alreeds drie keer meer as gewoonlik hierdie jaar is) sit ek met die uitdaging om al hierdie yslike syfers op meer tasbare maniere te probeer uiteensit. Anders, kan mens maklik, soos sommige staatsamptenare, begin dink dat ons werk bloot met so paar miljard hier so paar miljard daar en dan later begin ons eers oor regte geld praat.
Kom ons begin deur sommer gou daardie eerste miljard te visualiseer:
Stel jouself voor dat jy in ’n saal staan. Maar moenie skrik nie want jy is darem nie alleen nie. Trouens, jy word deur al jou naaste vriende en familie omring. Terloops, in hierdie voorbeeld het jy negehonderd nege en negentig (999) van hulle. Soos julle daar staan en gesels begin jou foon lui.
Verlig dat jy ’n tydelike breek van die reuseverantwoordelikhede wat sulke massa-onthaal verg kan kry, antwoord jy hom. Die persoon aan die ander kant verduidelik dat hulle ’n klomp pakkies het om by jou af te lewer. Jy sê dis reg, worstel deur die skare na buite en groet genoeg mense in die proses dat jy vir weke lank gaan kwel oor hoeveel keer jy moes sê dat jy “kan nie kla nie.”
Buite kom jy ’n vriendelike koerier tegemoet wat besig is om ’n klomp bokse met koeverte uit sy eeue-oue luikrug te laai. Nadat hy verduidelik dat hy geen klagtes het nie en jy dat jy maar voort kap handig hy die bokse oor en nou kan jou partytjie regtig begin.
Jy stap weer saal toe, deel al die koeverte uit en begin met jou toespraak. Effe uitgeput weens die hele affêre, kom jy sommer vinnig by die kern van die saak uit: in elkeen van daardie koeverte is daar ’n miljoen rand en jy vat nie net vir jouself een nie jy gee ook vir al 999 van daardie geliefdes ’n miljoen (nou verstaan jy hoekom jy nie alleen in daardie saal staan nie). Jy is almal se held. Julle partytjie en Neil Diamond se musiek het nog nooit beter geklink nie. Aan die einde van die aand kom jy by die huis en voor jy in die kooi klim kyk jy vir jouself in die spieël en sê “daar het ons nou ons eerste miljard.”
Nou goed, as hierdie vir jou lekker geklink het dan het ek nog goeie nuus: jy kan hierdie hele proses vir nog twee duisend dae in ’n ry herhaal en dan sal daar steeds nog so bietjie meer as ’n jaar oorbly waarin jy nuwe vriende elke dag kan nooi. G’n wonder niemand in jou vriendekring kan kla nie. Maar die tyd vir lekker kuier is nou verby. Kom ons keer terug na die begroting.
Die doel van hierdie denkoefening is nie net om lekker te droom nie, maar ook om aan te dui hoe groot bedrag geld R2.4 biljoen (oftewel R2 400 miljard) regtig is. Sodat ons kan verstaan hoeveel ons regering van plan is om te spandeer hierdie jaar (ons kan maar net bespiegel oor watter persentasie van daardie geld ons amptenare op soortgelyke wyses as hier bo bestee maar dit daar gelaat.)
Na die eerste poging om ’n begroting in Februarie vanjaar ter tafel te lê misluk het, was die groot debat in die regering hoe ons die staat gaan finansier sonder ’n twee persentasiepunt toename in BTW (oftewel ’n ekstra R58 miljard). Hierdie is uiteindelik in die tweede weergawe van die begroting in Maart vervang met ’n halwe persentasiepunt styging oor twee jaar (so bykomende R30 miljard altesaam). Die jongste weergawe het nie sodanige styging in BTW nie. Maar om bloot hierin vas te kyk is baie kortsigtig, want in teenstelling met wat baie van ons politici argumenteer, het Suid-Afrika eintlik hoegenaamd nie ’n probleem met belastingopbrengste. Ons probleme lê eerder by oorbesteding, swak bestuur van belastinggeld en hopeloos te veel inmenging by die besteding van private (na belasting) geld.
Staatsbesteding groei die afgelope ongeveer twee dekades rofweg drie keer vinniger as ons ekonomie. Dit verduidelik tot ’n groot mate dus hoekom SA se bruto skuldlas tans op R6 090 miljard (oftewel vrek baie byeenkomste met jou maters) staan. Die skuld-tot-BBP is in die jongste begroting weereens opwaarts na 77.4% van BBP aangepas en 16.5% van die oorhoofse begroting word spandeer net om ons skuld te diens. Let wel, nie om daardie skuld noodwendig af te betaal nie.
Ten spyte van mooipraatjies oor sogenaamde “verminderings” of “besnoeiing” van besteding in die jongste toespraak (rondom R69 miljard op mediumtermyn d.w.s. oor drie jaar), moet ons sulke uitlatings met hope en hope sout neem. Wanneer ’n minister praat oor begrotings sny dan moet mens hulle taal verstaan. Byvoorbeeld, “ons sny R100 miljard uit die begroting” klink asof ons nou ’n ekstra paar maande se lekker partytjie met ons maters kan reël. Maar wat die minister eintlik bedoel is “Hierdie item kos tans R500 miljard per jaar en ons was van plan om oor drie jaar R800 miljard elke jaar daaraan te spandeer, maar nou lyk dit meer soos R700 miljard.” Ewe skielik begin mens verstaan hoekom selfs as die regering hul besteding “sny” hulle dit steeds op ’n manier regkry om al hoe meer geld uit te gee.
Die ekonoom en Nobelpryswenner, Milton Friedman het eens op ’n tyd gestel dat niks in die wêreld so blywend en permanent soos tydelike staatsprogramme is nie. Hierdie is vir seker die geval in Suid-Afrika maar is ook tekenend van ’n wêreldwye probleem met owerhede: dit is ontsettend moeilik om merkwaardige verandering (afwaarts) aan staatsbesteding mee te bring as belange in sodanige besteding eers gevestig is. Daar kan selfs parallelle tussen SA en die VSA in hierdie verband getrek word aangesien die RNE ewe min invloed oor besteding in die jongste begroting gehad het as wat DOGE in die VSA uitgeoefen het. So dis darem een ding wat die ANC, Trump en meeste ander politici in gemeen het: hulle ly almal aan bestedingsbeheptheid.
Gevolglik, benadruk ek weer dat wat SA regtig uniek maak is die mate waartoe staatsgeld gesteel word en private (na-belasting) geld deur beleide soos, ondermeer, SEB beheer word en daar is ongelukkig nog geen tekens dat hierdie twee kwessies – veral die laasgenoemde – aangespreek sal word nie.
Uiteindelik bly die belangrikste syfer in die begroting die een wat ekonomiese groei aandui. Tog, ten spyte van die feit dat Tesourie-projeksies berug is vir hul ooroptimisme voorspel die minister ’n skamele 1.4% groei in 2025 – reeds baie laer as die 1.9% van Maart. Hierdie is ’n tweeledige skande. Eerstens, want selfs hierdie klein syfer is weereens verskriklik optimisties. Die Wêreldbank verwag, byvoorbeeld, net die helfte daarvan. Maar tweedens, want sulke slakkepas groei dui eintlik in effek op ’n inkrimping van die ekonomie relatief tot die populasie.
Al die ander syfers is dus, hoewel natuurlik belangrik, meer geraas as enigiets anders. Die RNE moet twee doele bereik dan maak die res van die begroting baie minder saak: verhoog die doeltreffendheid van staatsbesteding en hou op inmeng by privaat besteding.
Ons wil nie hê daar moet minder wonderlike partytjies met Sweet Caroline en Forever in Blue Jeans wees nie. Ons wil, om die waarheid te sê, selfs nog meer daarvan hê. Almal trek swaar wanneer die ekonomie nie groei nie en almal baat daarby wanneer dit wel doen, so kom ons maak daardie die fokus: die staat moet ons almal toelaat om sake te doen, werk te skep en geld te maak na goeddunke en as hulle kan bewys dat hulle meer omsigtig met belastinggeld omgaan dan kan hulle na hartelus dit ook maar spandeer.
Net soos die enorme pizza wat jy vir al daardie goeie vriende in die saal gaan benodig, kan almal lekkerder eet wanneer die pizza al hoe groter word en mense minder besorg is oor hoe ons hom sny. Dis eintlik so eenvoudig soos dit, kom ons noem dit dan maar: The Art of the Meal.
