This article was first published by Maroela Media on 29 October 2024
Die Vryemarkstigting stel eersdaags ‘n verslag op regeringsgrootte vry wat deel van sy Liberty First beleidsagenda (libertyfirst.co.za) vir die nuwe regering uitmaak. Dié agenda gebruik die Kanadese Fraser Institute se Economic Freedom of the World (EFW) jaarverslag as ‘n raamwerk.
Uit die vyf kategorieë van ekonomiese vryheid, rangskik Suid-Afrika die slegste op die vraag van regeringsgrootte. Die EFW meet onder andere die grootte van staatsuitgawes en besteding, belastingkoerse, en staatseienaarskap van bates. In 2023 se verslag het Suid-Afrika 119de uit 165 lande rangskik.
Die ander kategorieë wat gemeet word is regsisteem (SA: 59), geldsisteem (SA: 95), vryheid om internasionaal te handel (SA: 103), en regulering (SA: 91).
Regeringsgrootte is dus waar ons die swakste presteer.
Met die koms van die sogenaamde regering van nasionale eenheid (RNE) het talle geglo dat die tyd vir hervorming in Suid-Afrika aangebreek het. Ek was effens meer sinies, aangesien die resultate van die 2024 verkiesing nie vir my soos ‘n duidelike hervormingsmandaat gelyk het nie.
Maar tog was daar opgewondenheid oor die teenwoordigheid van pro-ekonomiese groei partye soos die Demokratiese Alliansie (DA), Inkatha Vryheidsparty (IVP), en die Vryheidsfront Plus (FF+) in die nuwe regering. Die DA het immers, binne die konteks van die mediumtermyn begrotingsrede, nou ‘n adjunk-finansiesminister in die vorm van Ashor Sarupen.
Ons staan nou aan die einde van die eerste 100 dae van die RNE wat op 30 Junie gevorm is, wat beteken die wittebrood-periode is bykans verby, en die groot politieke kapitaal vir hervorming wat vroeg vir die RNE teenwoordig was is nou besig om uit te loop.
Die RNE se beste tyd vir beleidsverandering was tydens hierdie eerste 100 dae. Nou – en beslis teen Februarie 2025 wanneer die staatsbegroting uiteengesit gaan word – is die samelewing redelik gewoond aan die RNE.
Enige groot beleidsverandering van nou af gaan al hoe meer skokkend wees, aangesien verwagtings nou geskep is dat die beleidsomgewing tot ‘n groot mate onveranderd gaan bly. Met elke dag wat verby gaan is die nuwe RNE ministers al hoe meer “kollegas” en al hoe minder indringers wat die boot bietjie kom skud.
Dit beteken hoegenaamd nie dat beleidsverandering onmoontlik of van die agenda af is nie. In die breë is die idee van beleidsverandering nuut vir Suid-Afrikaners, so dit gaan dalk ‘n uitgerekte proses wees. Maar hoe langer gewag word voor die sneller getrek word, hoe moeiliker gaan dit ongetwyfeld wees.
Die 2024 mediumtermyn begrotingsrede is, dus, dalk een van die laaste relatief makliker oomblikke vir die RNE om sy hervormingsagenda aan te kondig en te begin bewerkstellig.
In die FMF se Liberty First-verslag word drie hoofareas van hervorming geïdentifiseer wat aangespreek moet word om Suid-Afrika se rangskikking op die EFW se regeringsgrootte-telling te verbeter: fiskale verantwoordelikheid, belastinghervorming, en privatisering.
Dit blyk nie op die stadium dat RNE die nodige stappe gaan neem om fiskale verantwoordelikheid op nasionale vlak te bewerkstellig nie. Die RNE is immers in sonde gebore op dié vraagstuk, aangesien Ramaphosa die kabinet in Junie radikaal vergroot het, kwansuis om nuwe partye in die regering te akkommodeer. Nou is daar sommer ook meer as een adjunk-minister in verskeie portefeuljes.
Die FMF se voorstelle vir die RNE, waarvan ‘n mens ten minste aanduidings moet sien in die mediumtermyn begrotingsrede, is onder andere, in die area van fiskale verantwoordelikheid, om die kabinet van 34 portefeuljes tot 10 te verminder, die hoeveelheid adjunk-ministers streng te beperk, ‘n aansienlike proporsie van die staatswerksmag af te dank en die staatsloonrekening tot ‘n betekenisvolle mate af te bring, en die begroting te balanseer (d.w.s. nie méér te spandeer as wat die belastingbetaler in een jaar kan bekostig nie).
In die area van belastinghervorming stel die FMF voor dat persoonlike inkomstebelasting matig verminder word, en nie-standaard-belastings (soos kapitaalwinsbelasting, sondebelastings, en erfbelasting, ens.) heeltemal afgeskaf word. Suid-Afrikaners moet slegs persoonlike inkomstebelasting, korporatiewe inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde, en invoer/uitvoer belastings betaal.
In die area van privatisering stel die FMF eerstens, en mees belangrik, voor dat daar geen beperkings op kompetisie met staatsondernemings moet wees nie. As Eskom d.m.v. kernkrag elektrisiteit mag opwek en in die kragnetwerk in stoot, dan moet die privaatsektor dit óók mag doen. Dit tel ook vir die bou en besit van spoorweë, treine, en hawens (Transnet), en die aflewering van pos en pos-pakkies (Poskantoor).
Tweedens – ook belangrik om die begroting te balanseer – is om noemenswaardige staatsondernemings, soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Transnet, die Poskantoor, Denel, ens., heeltemal van die staat se balansstaat te verwyder en hulle te privatiseer.
Dit sal nie alles in ‘n mediumtermyn begrotingsrede aangekondig kan word nie, maar indien diegene in die RNE wat ernstig is oor hervorming wel énige dryfkrag binne die RNE het, sal ons ten minste aanduidings moet sien dat die regering in daardie rigting beweeg.
Indien nie, dan is Julius Malema wel oor een ding korrek: die RNE begin al hoe meer lyk as of dit slegs oor “vibes” gaan, en dit gaan nie vir die RNE-partye ‘n goeie resultaat in 2029 lewer nie.
