This article was first published by Maroela Media on 24 May 2024
Dit is ‘n onvermydelike feit van die moderne samelewing dat almal op een of ander wyse belasting gaan betaal. Meeste belastingbetalers weet wat hulle belastingaanspreeklikheid is, maar verstaan hulle werklik hoeveel van hulle jaarlikse produktiwiteit aan die staat opgeoffer word?
Die Vryemarkstigting (FMF) kondig sedert 1997 Suid-Afrika se ‘Belastingvryheidsdag’ aan: die dag waarop die gemiddelde belastingbetaler vry is van belasting.
Indien Belastingvryheidsdag op 1 Januarie val, beteken dit eenvoudig dat daar géén belasting is nie, en dat diegene wat ekonomies produktief is in die land al hul opbrengs vir hulself hou. Daarteenoor, indien Belastingvryheidsdag op 31 Desember val, beteken dit dat die staat elke sent wat belastingbetalers verdien opsuig.
Met ander woorde, hoe vroeër Belastingvryheidsdag val, hoe beter.
Suid-Afrika se 2024 Belastingvryheidsdag is 20 Mei, vier dae later as laasjaar toe dit 16 Mei was. Dit beteken dat die belastingbetaler nou op gemiddeld vier dae langer vir die staat werk, voordat hy na homself begin omsien. Belastingbetalers in hoë inkomstegroepe gaan vir nog etlike weke vir die staat moet opdok.
Die vroegste Belastingvryheidsdag sedert 1995 was 18 April 2002. Dr. Richard J. Grant, FMF seniorkonsultant en professor van finansies en ekonomie aan Cumberland University in Tennessee, doen die berekening van Belastingvryheidsdag vir die FMF.
Volgens Grant, om ‘n gegewe jaar se Belastingvryheidsdag te bereken, word algemene staatsbesteding deur die huidige BBP gedeel, wat die belastinglas as ‘n persentasie van BBP wys, sowel as die persentasie van die jaar wat gewerk moet word om daardie belastinglas te dek.
Jaarlikse staatsbesteding, eerder as die belasting wat jaarliks deur SARS ingevorder word, word gebruik omdat dit die akkumulerende las van uitgestelde belasting deur die skuldfinansiering van begrotingstekorte, en die netto rykdom-oordragte van inflasie, insluit.
Die instelling van skuldfinansiering is ‘n versteekte belasting wat die werklike koste van staatsaktiwiteite vir huidige belastingbetalers wegsteek, omdat dit ‘n groot gedeelte van die onmiddellike belastinglas op die skouers van toekomstige (ook ongebore) belastingbetalers plaas.
Dié dag moet vroeër wees!
Die FMF glo dat Belastingvryheidsdag aansienlik vroeër moet wees. Belasting moet laer wees, wat by wese beteken dat staatsbesteding ook laer moet wees.
‘n Groot regering is nie slegs ‘n ondoeltreffende regering nie, maar ook ‘n gevaarlike instelling.
Ons hoor die afgelope paar weke dat plaaslike en internasionale markte baie sleg sal reageer indien daar ‘n ANC-EFF-MK regering aan die stuur kom na 29 Mei se algemene verkiesing.
Waarom is dit? Eenvoudig omdat die Suid-Afrikaanse regering ‘n ‘leidende’ rol in die ekonomie speel.
Stel jou voor dat die regering aansienlik meer beperk – hetsy deur middel van politieke tradisie of geskrewe grondwetlike maatreëls – en dus slegs verantwoordelik was vir die handhawing van wet en orde en staatsverdediging.
Ja, selfs al was die regering só beperk, sal ‘n ANC-EFF-MK administrasie steeds ‘n onbekwame instelling wees wat nie wet en orde of staatsverdediging sal kan uitvoer nie. Maar die feit dat die regering nie met die ekonomie en sakewêreld kon inmeng nie sou verseker dat ekonomiese aktiwiteit en produksie eenvoudig voortgaan.
Niemand hou die verkiesing van die trusteeraad van ‘n inwonersvereniging in Bloemfontein noukeurig dop nie. Maar indien so ‘n inwonersvereniging in ‘n posisie van gesag oor die nasionale ekonomie geplaas word, sal die hare op almal se nekke orent staan wanneer die volgende trusteeraadverkiesing aanbreek.
Die temperatuur van politiek in Suid-Afrika is hoog omdat die regering verantwoordelik is vir te veel aspekte van ons maatskaplike aangeleenthede. Dit is ‘n onaanvaarbare konsentrasie-risiko wat oor die jare reeds verskriklike skade berokken het aan die sosio-ekonomie, met die ineenstorting van Eskom en Transnet as twee pertinente voorbeelde.
Die verskuiwing van Belastingvryheidsdag dieper en dieper die jaar in is ‘n duidelike aanduiding dat Suid-Afrika se regering te groot en ineengestrengel is met die ekonomie.
Die FMF identifiseer staatsinmenging (interference in plaas van die onvanpaste Engelse intervention) in die ekonomie as die duidelike bron van al Suid-Afrika se grootse eietydse krisisse: 13 miljoen plus werkloses, sub-1 persent ekonomiese groei, en vervalle infrastruktuur waarvoor niemand verantwoordelikheid neem nie.
Die nagevolge van hierdie ekonomiese flaters is geweldige private misdaad wat buite beheer is, en ‘n radikalisering van die ANC en die Suid-Afrikaanse politiek oor die algemeen.
Indien die ANC regering ‘n vryemark ekonomiese beleid gehandhaaf het sedert 1994 – wat 5 persent of meer groei per jaar en ordes minder werkloosheid sou veroorsaak het – sou ons beslis niks vandag gehoor het van onteiening sonder vergoeding, nasionale gesondheidsversekering (die onteiening van private gesondheidsorg), of van Suid-Afrika wat aan die kant van Rusland en Sjina teen die Weste staan nie. Ons sou beslis nie bekommer het oor partye soos die EFF en MK wat saam vandag die steun van 20% van stemmers geniet nie.
Slegs wanneer die staat se inmenging in die ekonomie verminder en Belastingvryheidsdag nader aan 1 Januarie éérder as 31 Desember begin neig, sal ons weet dat Suid-Afrika op die hoofweg na vooruitgang geklim het.